
Teresa Hill Opperman en Hugs of Hope
Wat kry jy as jy ‘n boer se vrou, ‘n sagte, omgee hart en vasberadenheid bymekaar sit? Jy kry Teresa Hill Opperman! Teresa is die hartklop van Hugs of Hope in Hofmeyer wat sedert 2016 aan die woeker is met haar tas vol talente.
Hofmeyer is ‘n kleine dorpie in die Oos-Kaap, sowat 60 kilometer van Nxuba / Cradock af. Ons het onlangs die voorreg gehad om vir Teresa en haar gedugte span te ontmoet. Ons drink warm koffie op‘n yskoue Saterdagoggend by The Farmhouse in Voortrekkerstraat. Die ontmoeting volg op aanbeveling van Bernie Dolley van Ikhala wat vertel het van die opwindende dinge wat op Hofmeyer aan die gang is. Teresa het wyse lewenservaring, geesdrif en kosbare mense om haar, dit maak Hugs of Hope ‘n baken van hoop in Hofmeyer.
Teresa, en Hugs of Hope glo heelhartig in Bate-gebaseerde Gemeenskapsontwikkeling. Die Engelse akroniem daarvoor is heel gepas: ABCD (Asset Based Community-led Development). ABCD is, soos wat die alfabet, die begin van lees is, ook die begin van volhoubare, voortgesette ontwikkeling vir gemeenskappe. Wanneer ontwikkeling vanuit hierdie benadering aangepak word, is die eindresultaat gemeenskappe wat bemagtig is. Hul weet wat hul unieke bates is en ook dat dit hul grootste belegging is. Indien bates geidentifiseer, ontwikkel en uitgebrei word, kan dit die bron raak wat ook ekonomies bemagtig. En dis nou hier waar Teresa en haar span inkom. Hul het hande gevat met Hofmeyer inwoners en nou word daar gebrei, gehekel, beskuit gebak, klere ingesamel en verkoop. Belangrike dienste word nou gelewer aan die mense in Hofmeyer en selfs baie wyer.
Vroue wat voorheen sonder ‘n inkomste was, kry nou die geleentheid om deeglik opgelei te word. Vaardighede word uitgebrei en sodoende word ‘n verdienste verseker. Vroue getuig met selfvertroue van persoonlike groei, iemand het in hulle geglo en hulle gehelp om hul eie bates te identifiseer.
Van die vroue leer die wonderlike kuns van naaldwerk, die skep van kwilte en die herstel van klere. Ook ander vroue wat kan hekel of brei word deel van hierdie warm gemeenskap van “Drukkies van Hoop.”
Ons koop en eet van die heerlike beskuit wat Willem en Hettie van Wyk Hanker by “Hugs of Hope” self bak, versprei en verkoop. In ‘n oogwink is ons ses jaar oud en terug in ons ouma’s se kombuise. Ons wonder, hoe is dit moontlik dat ‘n enkele happie karringmelk- of anys beskuit, jou wereld skielik weer veilige kan laat voel?
Ek word ook bederf met die aller-mooiste gehekelde knie kombersie deur Marie Seaman. Baie dankie, Marie! Dis vir my ‘n kleinood.
Toe ons uit Hofmeyer ry is ons harte vol en ons gees lig! Daar is inderdaad baie hoop op Hofmeyer. Hoop vir groot drome en vir nog veranderinge. Hofmeyer is besig om te herlewe! Dankie Teresa dat jou hoop aansteeklik is! Jy maak van Hofmeyer, ‘n dorp van hoop!
Marie Oosthuizen




